Instituut

Die Instituut is deur die drie Afrikaanse Susterkerke gestig op 13 Maart 1947.   Die doel was om ‘n skool vir dowes te open vir kinders in die Noorde.

Die eerste skool wat gestig is, was die Transoranje-skool vir Dowes op 16 Augustus 1954.

Dit was egter duidelik dat die Instituut ook ander skole sou moes open vir kinders met ander gestremdhede.   Die druk van ouers en kinders was die oorwegende faktor.

  • ‘n Kleuterskool vir blindes is geopen by die kleuterafdeling van die Transoranje-skool op 11 Junie 1960.
  • Die Prinshofskool vir gesiggestremdes is amptelik geopen op 23 November 1963.
  • Die Transvalia-skool vir epileptici is op 7 Julie 1972 amptelik geopen.

As gevolg van die groot hoeveelheid kinders wat gehoorgestremd is, is die Sonitusskool vir hardhorendes op 10 April 1973 geopen met 40 leerders.

Op versoek van die Bestuur is nog ‘n skool vir serebraalgestremdes geopen te Bloemfontein op 1 April 1974.   Hierdie is die enigste skool buite die Pretoria gebied.

Die Instituut is tans die Borgliggaam van 5 skole vir leerders met gestremdhede nl:-
  • Transoranje-skool vir Dowes.
  • Prinshofskool vir Gesiggestremdes.
  • Sonitusskool vir Gehoorgestremdes.
  • Transvalia-skool vir Epileptici.
  • Hoërskool Martie du Plessis vir Serebraalgestremdes.

Doel
Die doel van die Instituut is om fondse in te samel om die kleiner wordende staatsubsidie wat die skole ontvang, dmv ‘n maandelikse  subsidie aan te vul en vir spesifieke projekte om gestremde leerders (veral behoeftiges) van alle rassegroepe ‘n gelyke loopbaangeleentheid te bied.  

Die skole ter sprake, vervul ‘n unieke en onontbeerlike diens.  Die diens kan slegs gelewer word indien genoegsame addisionele fondse gevind kan word daar baie ouers nie die hoër koste verbonde aan buitengewone onderwys,  ten volle kan betaal nie.

Situasie by Skole
Die situasie by alle  skole wat  ‘n staatsubsidie ontvang is dieselfde in die sin dat die al kleiner wordende subsidie ‘n duidelike invloed het op:-

  • Die agteruitgang van geboue en terrein.
  • Die vervanging van toerusting.
  • Lopende koste.
  • Die ondersteuning aan behoeftige leerders.

By skole wat spesiale onderrig aan hierdie gestremde leerders moet gee, raak die situasie by die dag meer benard, omdat die personeel en toerusting wat benodig word, baie duur is.

Geen bydraes wat ontvang word, word gebruik vir luukse items nie, inteendeel word fonds gebruik vir:

  • Die onderwyser/leerder verhouding is kritiek vir spesiale onderrig. Omdat onderwyspersoneel heelwat verminder is, is die skole genoodsaak om onderwysers aan te stel en self te vergoed.
  • Spesiale toerusting soos braille-masjiene, rekenaars, gehoortoestelle, rolstoele is uitrusting wat daagliks deur hierdie leerders gebruik moet word en daarom word dit verskaf aan leerders wat dit nie self kan bybring nie.
  • Instandhouding en aankoop van voertuie – kinders word daagliks aangery na hulle skole, aangesien hulle nie van hoofstroomskole gebruik kan maak nie. Dit beteken 3 tot 4 bussies per skool.  Al hierdie bussies is reeds baie oud en sal in die nabye toekoms vervang moet word. Dit is hierdie leerders se enigste manier om by die skool te kom. 
  • Om hierdie leerders effektief vir die arbeidsmark voor te berei, word spesiale vakke soos Hotel en Spyseniering, Rekenaarkursusse, Metaalwerk o.a. as vak aangebied. Die skole moet egter self die toerusting verskaf wat weer eens uit hul eie fondse verkry word.

Behoeftige Leerders
Groepe leerders. In elke skool is daar ‘n aantal leerders wat agv sosiaal-/maatskaplike omstandighede slegs gedeeltelik of glad nie kan bydrae tot hul onderrig nie.

Hierdie leerders val in die volgende kategorieë:

  • Leerders in kinderhuise/pleegsorg.
  • Leerders wie se ouers geen inkomste het nie.
  • Leerders wie se ouers ‘n baie lae inkomste het.

Skole bepaal hierdie leerders en hul behoeftes volgens die skolewet en dan per capita behoefte vir onder meer:

  •  Skoolfonds.
  •  Vervoer.
  •  Koshuisgelde.
  •  Sport en Kultuur.
Individuele behoeftes. Die volgende kategorieë is hier ter sprake:
  • Individuele leerders wat deur ‘n onvoorsiene krisis of ramp van middele ontneem is om sinvolle skoolbywoning te verseker.
  • Presteerders op akademiese-, kultuur- en sportgebied wat nie kompetisies en ander blootstelling kan meemaak nie.    Dié sulkes word gesubsidieer agv hulle waarde as rolmodelle en draers van hoop in ‘n omgewing waar wanhoop en beperkte horisonne aan die orde van die dag is.
  • Individue wat afhanklik is van ‘n spesifieke stuk toerusting/apparaat vir voortgesette skoolopleiding en dit verloor het, nie kan vervang/opgradeer nie of nie kan bekostig nie.
  • Leerders wat sekere medikasie nodig het om te funksioneer en dit gedeeltelik of geheel en al nie kan bekostig nie.
  • Diegene wat in gebreke is om genoegsame skryfbehoeftes, toiletware en klerasie te bekostig en dus nie met waardigheid tussen ander leerders kan funksioneer nie.


Die Instituut ken jaarliks ‘n bedrag toe om hierdie leerders te help.

2003 : R 85 000
2004 : R110 000
2005 : R400 000
2006 : R301 801
2007 : R378 055