Transvalia-skool vir Epilepsie en Leergestremdheid

Jan Coetzeestraat 200
Jan Niemandpark

Posadres:
Privaatsak X6
Lynn East
0039

Telefoonnommer: (012) 800 1071/2/3/4
Faksnommer: (012) 800 1075
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Oorsig
Transvalia-skool is 'n skool vir leerders wat aan epilepsie ly en/of ernstige leerprobleme ondervind. Die skool voorsien in die spesifieke behoeftes van hierdie leerders m.b.v geïndividualiseerde, gespesialiseerde onderrig, remediërende onderrig, arbeidsterapie, spraakterapie, sielkundige ondersteuningsmeganismes en oudio-hulp. Hierdie dienste word verskaf aan leerders van Graad 1 tot 10  en onderrig geskied deur die medium van Afrikaans en Engels. Graad 11 en 12 word ook ingefaseer.

Alle grade volg die nasionale kurrikulum soos voorgeskryf  in die NKV en HNKV.

Leerders het toegang tot 'n hoogsgespesialiseerde rekenaarlokaal wat ook 'n leesprogram het wat die leerders met leesprobleme teen hulle eie individuele tempo help. Onafhanklik van bogenoemde rekenaarlokaal beskik die skool ook oor 'n GautengOnline rekenaarsentrum wat aan leerders hulp verskaf met hul navorsingsbehoeftes.

Om die Gasvryheidstudies te komplimenteer, het Transvalia sy eie opleidingsrestaurant, C'est la Vie waar leerders hulle kennis en vaardighede in die praktyk kan toepas.

Leerders ontvang Oudiohulp om hul te help met die leerproses. Skoolwerk en inhoud van handboeke word op CD gelees. Sodoende kan leerders na die CD luister, terwyl hul die geskrewe werk in hul boeke volg. Leerders met leesprobleme vind veral baat by hierdie metode. Leerders mag ook gedurende eksamen van Oudiohulp gebruik maak, waar die vraestelle op CD gelees word.

Transvalia ding mee op sportgebied in atletiek, rugby en netbal.
Gedurende die somermaande spits ons ons toe op atletiek. Ons ding mee met 8 ander Buitengewone Onderwys skole. Ons kan met trots sê dat 'n groot aantal leerders jaarliks deurdring na die SA atletiekspan vir Buitengewone Onderwys wat aan USSASA SA  Kampioenskappe te Sasolburg deelneem.

Transvalia-skool het 'n gesonde netbalgees. Daar is byna elke jaar spelers wat gekeur word om deel te wees van die Noord-Gauteng Netbalspan vir Buitengewone Onderwys. Hulle speel gewoonlik  in die Julie-vakansie wedstryde teen die ander provinsies.

Die skool bied jaarliks 'n konsert of Revue aan wat ook in die Pierneefteater en Aula op die planke kom.

Leerders neem aan die Pretoriase Eisteddfod deel en slaag met lof. Hierdeur word leerders se selfbeeld sterk gevestig. Transvalia-skool het al vir agt agtereenvolgende jare die En Avant - trofee vir die beste hoërskoolprestasie in die poësie - afdeling vir Buitengewone Onderwys by die Eisteddfod ingepalm.

Daar is drie koshuise wat inwoning verskaf aan seuns en meisies van alle ouderdomme. Toesig en sorg 24 uur per dag. Mediese suster op bystand.

Leerders word vanoor die hele Pretoria na en van die skool vervoer.