Prinshofskool vir Gesiggestremdes

Prinshofstraat 19
Pretoria

Posbus 2817
Pretoria
0001

Telefoonnommer: (012) 328 4170
Faksnommer: (012) 328 4540
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.


Prinshofskool vir Gesiggestremdes is 'n multikulturele, dubbelmedium (Afrikaans en Engels) skool geleë in die sentrale sakegebied van Pretoria.  Die skool open in 1963 en bied tans onderrig aan 351 blinde en swaksiende leerders vanaf graad 0 tot graad 12.  Ongeveer 55% van die leerders kom uit agtergeblewe gemeenskappe.

Leerders is afkomstig vanoor die land en koshuisinwoning word verskaf aan 187 leerders.  Skoolvervoer is vir dagskoliere beskikbaar.

Prinshofskool bestaan uit 'n graad 0-klas, primêre en sekondêre skole, 'n afdeling vir spesiaal onderwys wat fokus op praktiese vaardighede, asook 'n afdeling vir leerders met veelvuldige gestremdheid.  Prinshofleerders volg dieselfde kurrikulum as hoofstroomleerders in Gauteng en skryf die standaard Seniorsertifikaateksamen.  

Vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Musiek, Lewenswetenskappe en Rekenaartoepassingstegnologie word suksesvol aan blinde leerders gebied.  Oudleerlinge studeer aan verskeie universiteite en volg kursusse in o.a. Aktuariële Wiskunde, Informatika, Musiek en Geesteswetenskappe.  Die skool het 'n trotse rekord van 'n 100% slaagsyfer in graad 12 vir 10 opeenvolgende jare.  Die afgelope 6 jaar spog Prinshof met die top graad 12-leerder vir Buitengewone Onderwysskole in Gauteng.

Hulpdienste by die skool sluit in: 2 opvoedkundige sielkundiges, 2 arbeidsterapeute, 'n verpleegkundige, 'n algemene mediese kliniek en laevisie evaluering deur 'n vrywillige oftalmoloog en optometris.  Oriëntering, mobiliteitsopleiding en daaglikse lewensvaardighede speel 'n belangrike rol in die opvoeding van 'n gesiggestremde leerder.

Die musiekmagneetsentrum word bedryf deur 6 musiekonderwysers wat koor, orkes, klopdanse, gum-boot danse, baldanse, Afrika tromme en individuele musieklesse aanbied.  Die rekenaarsentrum is toegerus met sagteware vir blinde en swaksiende leerders, asook 'n brailledrukker en fotokopieerder. Gratis internet toegang word verskaf aan leerders en personeel.  'n Aktiewe sportprogram sluit in: swem, atletiek, sokker, judo en 'n gimnasium, sowel as die geleentheid om jaarliks deel te neem aan die SA Spele vir Fisies Gestremdes.  Leerders vorm deel van die Verteenwoordigende Raad van Leerders en die Junior Stadsraad van Pretoria. Leerders is ook betrokke by die verbouing van organiese groente en tonnelboerdery om vars produkte aan die koshuise te voorsien.