Sonitusskool vir Gehoorgestremdes

Jan Coetzeestraat 200
Jan Niemandpark

Posadres:
Posbus 15408
Lynn East
Pretoria
0039

Telefoonnommer: (012) 800 1161/2/3
Faksnommer: (012) 800 1170
E-posadres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Sonitusskool vir Gehoorgestremde leerders glo dat elke kind sy/haar volle potensiaal moet ontwikkel. Die skool is geleë in East Lynne, Pretoria. Dit is een van die min skole in die land wat voorsiening maak vir onderwys aan gehoorgestremde leerders deur middel van ouditief verbale onderrig. Die skool is gesteld daarop om leerders te help om sover moontlik verbale kommunikasie te bemeester.

Vroeë identifisering en hantering van gehoorverlies is belangrik vir die gehoorgestremde kind. 'n Vroeë intervensie program asook 'n effektiewe opvolgprogram stel elke gehoorgestremde kind in staat om 'n produktiewe lewe in 'n "horende" wêreld te lei. Gehoorverlies kan reeds direk na geboorte bepaal word en hierdie kind staan 'n goeie kans om gesproke taal suksesvol aan te leer.

'n Ondersteunende ouerleidingprogram word aangebied om ouers te bemagtig om hul kind se taalontwikkeling maksimaal te stimuleer.

Gehoorgestremde kinders kan vanaf driejarige ouderdom by die uiters suksesvolle voorskoolse program inskakel en vorder tot matriek. Leerders het 'n wye vakkeuse wat hulle in staat stel om soos normaalhorende kinders voor te berei vir die toekoms binne die grense van sy/haar latente moontlikhede. Kommunikasie word doeltreffend ondervang deur visuele en praktiese onderrig. Leerders se plasing in 'n hulpklas word op meriete gedoen en daar word dus gelet op ouderdom, agterstande, vaardighede, gedrag, vorige onderrig, insette en terapie reeds ontvang.

Sport en kultuur speel 'n belangrike rol in die ontwikkeling van leerders met gehoorverlies. Alle leerders word aangemoedig om deel te neem aan 'n wye verskeidenheid sportsoorte en kultuuraktiwiteite. Selfstandigheid, selfvertroue en samehorigheid word bevorder op sport en kulturele gebied. Leerders behaal groot sukses op sport- sowel as kulturele gebied. Hulle word ook geleer om kultureel esteties sensitief te wees in 'n verskeidenheid sosiale kontekste.

Alhoewel die skool 'n klein subsidie van die staat ontvang, moet die skool hoofsaaklik gefinansier word deur bydraes van die ouers in die vorm van skoolfonds. Daar is egter op hierdie stadium sowat 75 hulpbehoewende kinders wie se ouers nie bogenoemde skoolfonds kan betaal nie. Dit bring 'n geweldige finansiële las op die skool mee. Daar is sowat 310 leerders ingeskryf by die skool.

'n Wye reeks bykomende dienste word gelewer om leerders te bemagtig en by te staan om hul plek in die samelewing vol te staan. Oudiologie, Arbeidsterapie, Spraakterapie, Sielkundige dienste, Maatskaplike dienste, Gesondheidsdienste, Koshuisfasiliteite, Busvervoer (daagliks), 'n Naskoolsentrum en Inligtingsfasiliteite.